15.08.2017
Hier sit ek in die verte. Meer as n dag se vlug weg van die huis af. 7 ure verskil tussen my en my mense. Oseane skei my van als wat ek ken en styf teen my hart vas hou.
Hoekom sal jy vra? Hier is my antwoord;
Ek het gekom vir die ondervinding en die avontuur daarvan. Vir die droom van n jaar in n ander land. En om aan myself te bewys dat ek kan. Ek het gekom oor ek inspirasie verloor het in my alledaagse lewe. Ek het niks gehad wat my gemotiveer het om meer te probeer wees nie. Ek was besig om te settle vir minder as wat ek wil he. En daai stemmetjie binne in my wou nie laat gaan nie; sy het aangehou knaag vir iets anders; iets nuut. En sy kry gewoonlik wat sy wil he.
Ek het inspirasie kom soek om my kreatiwiteit n hupstoot (of n skop onder die gat) te gee. Ek was oortuig ek sou dit hier kry. In n nuwe land met nuwe dinge en nuwe kulture met nuwe tale en nuwe kleure en geure.
Ek is nou al twee maande hier en ek het my inspirasie gekry. Nie in die ongelooflike somer hitte van Texas, of in die mooi van die Meksikaanse aksent of in die ongelooflike oorweldigheid van die vriendelikheid wat die mense hier in Austin uitstraal nie. Dis nie in die lekker lag kuiers saam met nuwe vriende of n koue bier na werk met n bietjie live music in die agtergrond nie. Al hierdie dinge maak die verlange huis toe meer draagbaar, dis wel waar. En ek geniet elke oomblik daarvan.
Maar ek het my inspirasie gekry in Afrikaans. In die tye wat die verlange huis toe te erg maak sit ek met afrikaans wat in my ore bler terwyl die trane teen my wang af loop soos memories wat ek nie heeltemal kan onthou nie. Dis die woorde en lirieke van ons land se talent wat my inspireer hier ver. Die mooi van ons taal saam met snare van n kitaar. Dis waar ek my inspirasie kry. Die heimwee skop seker nou in. Dis die nostalgie van Karen Zoid se Engel en absolute gevoel van fok jou ek kan enige iets doen wat Fokofpolisiekar se eerste album in my wakker maak. Dit vat my terug na my hoerskool dae; en op dieselfde tyd maak daai woorde direk kontak met my 28 jarige hart. Elke woord, elke liriek, elke emosie agter elke reel van elke liedjie maak my opgewonde om nog tien maande in Amerika te wees, maar dit maak meer opgwonde om huis toe te gaan en by te dra tot die ongelooflike kuns wat Afrikaans is.
Ek sit dalk hier ver, en voel gereeld alleen, maar ek weet Afrikaans en Afrika is in my bloed en met dit ingedagte is ek reg om enige iets aan te vat wat my kant toe kom.
Baie liefde hier uit Austin, Texas.
My hart vir jou, Suid Afrika